Search this site or the web powered by FreeFind |
Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is,
en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
--Paulus in Filipense 3:14

As jou oë dof, jou ore doof en jou hart vol twyfel geword het, bid ons dat God self jou oë se glans sal terug bring, jou ore sal opskerp om weer nuut te luister en jou hart binne jou sal laat jubbel tot Sy eer.
God sal jou nie teen jou sin daartoe dryf nie, Hy sal jou daartoe lei om dit vrywillig in oorvloed te ervaar en an ander rondom jou uit te deel.
Ek hoop dat die kort reeks regtig iets vir jou sal beteken. Ek ontvang graag terugvoering, gooi maar 'n
Epos
die kant toe.
Handelinge 8:26-33 En 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was 'n man van Ethiopië, 'n hofdienaar, 'n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiopiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dit: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.
Wat antwoord ons wanneer aan ons gevra word om God se woord aan iemand te verduidelik? Ons stuur hom liewer na die dominee, priester, pastor of ouderling omdat ons nie bevoeg voel om dit te doen nie.
Daar is niks verkeerd met hierdie optrede nie mits ons die eerste Voedsel korrels uitdeel. Wanneer iemand my om 'n stukkie brood vra, is hy honger. Om aan hom te sê om na die bakker te gaan wat eers weer môre oopmaak terwyl ek darem 'n korsie brood het wat intussen sy honger gedeeltelik kan stil en dit weerhou, maak ek sy honger dood?
Filippus het met hom begin praat oor dit wat die reisiger besig was om te lees, sy woorde was dus van toepassing op die leser se vlak. Omdat Filippus bekend was met die professie van die koms en sterwe van Christus kon hy dit aan hom verduidelik. Die reisiger kon daarna oppad na sy bestemming dit wat hy gelees het en dit wat aan hom verduidelik is, oordink en daar volgens begin leef.
Leer ken jou Bybel sodat jy ook n jou mede reisigers op die lewenspad 'n aanwyser tot God kan wees.
Johannes 5:19-21 Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. My kinders, bewaar Jull self van die afgode. Amen.
Daar is deesdae die argument dat mens nie die Bybel kan glo as jy jou gesonde verstand gebruik nie, daar is te veel Ongeloofbare dinge geskryf. Hier weerspreek Johannes hulle uit dieselfde Ongeloofbare Bybel. Hy sê dat God ons die verstand gegee het om te glo wat geskryf is. Ja, ons leef in ander tye maar dit beteken nie dat ons mekaar mag verwar met allerlei argumente oor wat waar of onwaar in die Bybel is nie. Die Bybel kan nooit half waar en half onwaar wees nie. Dit kan slegs die volle waarheid wees of voluit leuens.
Gebruik die verstand wat die Seun van God jou gegee het om die Waaragtige te ken en moenie toelaat dat die mens van die wêreld jou verwar nie. Geloof gaan gepaard met 'n intieme verhouding met die Heilige Gees en deur Jesus met die Vader te hê. Geen argumente of preke kan vir jou geloof gee nie, dit kom slegs deur Jesus en Sy kruis dood.
Maklik gesê. Natuurlik is dit moeilik om van gewoontes en dinge afstand te doen. Jy sal self weet wat jou persoonlike afgode is en God moet bid om jou te help om daarvan ontslae te raak. God het op soveel plekke in die Bybel belowe om onder alle omstandighede met en by ons te wees, ons hoef geen tree alleen te stap nie.
Beter as Paulus kan ek dit nie uit spel nie. Dat die Bybel vandag nog net so van toepassing is en daarom praat God self met die moderne mens, is nêrens duideliker as hierdie gedeelte waar Paulus dit onverbeterlik uitspel nie.
1 Korinthërs 15:12-20 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
Ja, Paulus skryf in lang sinne met baie kommas, maar jy sal dit verstaan as jy noulettend en met konsentrasie lees. Die Bybel is nie 'n Kits Gids wat mens net so bolangs bekyk tot daar iets anders is om te doen nie.
Daar is nog baie voorbeelde in die Bybel waar God met mense gepraat het maar ek sal met hierdie voorbeelde volstaan. Ek hoop jy sal ook die Wag op God net so verrykend vind soos ek. Om net voor Hom te sit met 'n biddende hart, sonder woorde, totdat ek Sy nabyheid kan ervaar, is baie lekker. Soms raas my gemoed ook so baie dat dit moeilik is om stil te word maar die troos wat volg, is altyd verfrissend. 'n Persoonlike en intieme verhouding met God is een van die grootste geskenke wat mens kan ontvang. My gebed is dat jy dit ook sal ervaar.
God seën jou, my leser. Ek hoop hierdie paar gedagtes en ondersoek van die Heilige Bybel sal jou inspirer om die Boek in diepte te begin bestudeer sodat jy kos vir jou siel in oorvloed kan kry.
Hettie Woehler
© ) Kopiereg voorbehou 2007 / 2008
Geen duplisering, in watter formaat ook al, mag van hierdie artikel gemaak word sonder die skriftelike toestemming van die Skrywer nie.
Jy is welkom om ons te laat weet of jy enige baat gevind het by hierdie gedagtes. Kontak ons ons ontvang graag terugvoering.