|
Search this site or the web powered by FreeFind
|
|
|
|
|
Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is,
en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
--Paulus in Filipense 3:14

Welkom op ons Vriendelike Webtuiste
Om
Dink 'n bietjie hieroor:
GOD SE STEM IN DIE BYBEL!
As jou oë dof, jou ore doof en jou hart vol twyfel geword het, bid ons dat God self jou oë se glans sal terugbring,
jou ore sal opskerp om weer nuut te luister en
jou hart binne jou sal laat jubbel tot Sy eer.
God sal jou nie teen jou sin daartoe dryf nie, Hy sal jou daartoe lei om dit vrywillig in oorvloed te ervaar en an ander rondom jou uit te deel.
Ek hoop dat die kort reeks regtig iets vir jou sal beteken. Ek ontvang graag terugvoering, gooi maar 'n Epos die kant toe.
Inleiding
Die Bybel is vandag nog die ware Woord van God. Ons gaan so bietjie op die Bybelspoor van Sy stem stap om vas te stel of Hy vandag nog iets vir ons te sê het.
God Praat terwyl hy skep
Hy Sien Die Totale Prentjie
Genesis 1:1-2 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreld-vloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
Die moderne mens weet alles van Visualiseer af, “sien die volledige prentjie in jou geestesoog. Moenie een klein besonderheidjie uitlaat nie.”
> Omdag God die Skepper is, kan ek my voorstel hoe lekker dit moes gewees het om die volmaakte aarde te Sien terwyl Hy Sy gees oor die waters laat sweef het. Die verskil tussen God se "visualisering" en myne is dat Hy geen eksperimente uitgevoer het nie, geen foute moes korrigeer nie. Wat Hy wou skep, het Hy die eerste keer volmaak gedoen.
God Begin Sy Skeppingswerk
Genesis 1:3-5 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. . . . .&
God is nie 'n God vir duisternis nie. Die eerste ding wat Hy geskep het, was lig om die duisternis te verdryf. Omdat Hy later mens en dier sou skape, het Hy ook reeds geweet dat daar tyd vir werk en tyd vir rus moet wees. Watter beter beskrywing as "dag" vir lig en "nag" vir duisternis is daar?
Sy Skepping Geskied Ordelik
Genesis 1:6-8 En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem.
God het stelselmatig geskep. Besonderhede was vir Hom belangrik sodat Sy finale skepping volmaak kon wees. Selfs die name van elke stap is onmiddellik vasgestel. Die tussenposes, "en dit was aand en dit was more" aan die einde van elke dag klink soos goeie poësie, pouses wat die klem op die regte plekke laat val sodat die leser elke besonderheidjie kan inneem.
God Trek Die Buitelyne
Genesis 1:9-10 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. En God het die dro‰ grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was.
In my geestesoog kan ek God sien waar Hy nou deur slegs die woord te spreek, die buitelyne van Sy Skepping begin trek. Alles netjies, ordelik uitgewerk. Die water word 'n plek gegee om te heers en sy eiesoortige doel te dien en die droë grond 'n plek om sy eiesoortige taak te verrig.
Eerste Opdragte Aan Die Skepping
Genesis 1:11-12 En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
Selfs die natuur op aarde mag nie ledig wees nie, dit moet volgens God se opdrag voortbring. God skep die natuur sodat elke deeltjie daarvan ook nie hoef te wonder wat dit veronderstel is om te doen nie, Hy gee spesifieke opdragte aan elke plant, en die plant doen soos deur God bepaal. Daardie eerste kleurvolle baba-plantjies moes die mooiste gesig gewees het. Deur Sy seisoene kan ons vandag nog die wonder van groei in die natuur bewonder. Die natuur is steeds getrou aan God se opdrag soos so baie lank gelede gegee. Ervaar ons ook die mooi van elke seisoen in ons eie lewens?
Die Doel Van Lig En Donker
Genesis 1:14-18 En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die Aarde en om te heers oor . . . .
Die opdrag aan die lig van die dag en die duisternis van die nag word hier herbevestig.. Ook aan hulle woord 'n opdrag gegee. Hulle moet lig verskaf aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde sodat mens en dier dit bedags en gedurende die nag kan bewonder en as rigtingwysers gebruik. Die mens wat later sou volg, het dus reeds daglig sowel as lig in die nag gehad nog voordat hulle geskape is. Tog jammer ons mensgemaakte lig oorskadu God se veel mooier sterlig en het ons verleer om letterlik snags volgens die maan en sterre ons weg te vind. Ons is verlore as die elektrisiteit afgeskakel word!
God Doen Dit Self
Lees gerus die volledige Genesis 1: en let op hoe God eers elke spesie se omgewing skep en dan daarin plaas wat Hy bepaal daar sal heers. Kyk dan om jou rond en let op hoe ons, ja, ek en jy ook, al God se volmaakte skepping oneer aan gedoen het. Luister weer na Sy Stem uit Genesis en doen dit waarvoor jy en ek geskape is: Om lof en eer aan die Skepper van alle dinge te bring deur so bietjie van ons mensgemaakte troontjie af te klim en weer God se natuur te bewonder en waardeer.
Hettie Woehler
© ) Kopiereg voorbehou2007
Geen duplisering, in watter formaat ook al, mag van hierdie artikel gemaak word sonder die skriftelike toestemming van die Skrywer nie.
Jy is welkom om ons te laat weet of jy enige baat gevind het by hierdie gedagtes.
Kontak Ons,
ons ontvang graag terugvoering.
God se Stem in die Bybel 1
God se Stem in die Bybel 2
God se Stem in die Bybel 3
God se Stem in die Bybel 4
God se Stem in die Bybel 5
God se Stem in die Bybel 6